Skoliere van Brandenburg Primêr, Halfmanshof raak Brandslim

SKOLIERE VAN DIE BRANDENBURG PRIMÊR, HALFMANSHOF RAAK “BRAND SLIM”

Deur Marietjie Valentine

Om gereedheid en bewusmaking vir die komende brandseisoen te bevorder het die Groter Cederberg Brandbeskermingsvereniging (GCBBV) en Working on Fire (WoF) span die Brandenburg Primêr, in die Halfmanshof distrik buite Porterville, besoek.

Die GCBBV se basisbestuurder, Jurie van Zyl en tien spanlede het tydens hul besoek aan Brandenburg Primêr verskeie onderwerpe hanteer en met met die 307 kinders bespreek. Daar is meer vertel oor die gevare van vure, hoe om brande te verhoed in ’n huislike opset en wat hulle moet doen as daar wel brande uitbreek soos byvoorbeeld om te “stop, val en rol’. Die kinders het ook deelgeneem aan ’n prettige vasvra kompetisie wat gehandel het oor brandveiligheid en elke korrekte antwoord is beloon met klein geskenkies soos ballonne en bordspeletjies wat ook ʼn bewustheid boodskap vervat het. Die skoliere het ook fisies deelgeneem aan aktiwiteite soos om saam met die span te dril en te draf – die sessie is met oorgawe geniet.

Die Porterville WoF span het in Januarie 2014 die skooltjie aangeneem as deel van hul sosiale uitreikingsprogram en besoek gereeld die skool. Besoek die GCBVV webtuiste www.cedeerbergfpa.co.za vir meer informasie.

 

Comments are closed.